Friday, October 7, 2011

BUSINESS BY THE BOOK SEMINAAR MORELETAPARK PRETORIA. Johan Louw


Geskiedenis is gemaak en die ys is gebreek met die eerste aanbieding van die “Business by the Book” of te wel Bybelse Besigheidsbeginsels in Moreletapark Gemeente. Die 8 persone wat die kursus bygewoon het was vol lof oor die inhoud van die werksboekie en het in hulle kommentare aangedui dat hulle geinspireerd en meer toegerus as voorheen voel, om ‘n verskil in die werksplek te maak. Van die kursusbywoners se kommentare was die volgende: “Die kursus het my oë oopgemaak vir geleenthede waarmee ek God kan verheerlik”


“Ek kan God onvoorwaardelik vertrou”
“Die kursus het my net weer laat besef waaroor dit eintlik gaan en dat God ons seën om del te wees van Sy plan”
“Dit was belangrik om te hoor hoe belangrik dit is om die Here se besigheid vir Hom met integriteit en eerlikheid te bestuur’
“Die praktiese probleme en uitdagings wat bespreek word asook praktiese oplossings het my as mens baie verryk. Ek voel rerig ek het my plek en skeppingsdoel ontdek en het deur hierdie kursus baie daarin gegroei”
Dit was vir my as aanbieder ook voorwaar ‘n voorreg en lewensverrykende ervaring om die kursus te kon fasiliteer. Nie alleen het dit my eie kennis en vaardighede oor die onderwerp van Christelike besigheid verbreed nie, maar beslis ook ‘n besonderse gesindheid en entoesiasme vir my manier van besigheid doen in die toekoms, gekweek.
Dit was ook ‘n wonderlike geleentheid om my eie lewensreis met die Here in my besighede met ander te kon deel en ook van die bywoners se stories en verhale te hoor. Dit was duidelik dat die Here op ‘n spesiale manier met elkeen wat bygewoon het ‘n besonderse pad in hulle besighede stap.
‘n Faktor wat wel in die toekoms aangespreek moet word met die aanbied van die kursus is die tydsaspek. Daar was eenstemmigheid dat die sowat 7 ure wat aan die kursus spandeer was heeltemal te min was. Dit wil voorkom of 10-12 ure die kursus meer tot sy reg sal laat kom.
Die werkboekie was maklik om te gebruik en kon werklik met vrug aangewend word om ons deur die toepaslike gedeeltes te neem. Dit het ook daartoe gelei dat ons waardevolle gesprekke oor die verskillende onderwerpte kon voer. Daar was deurgaans spontane deelname van die bywoners. Aangesien die groepie klein genoeg was kon ons die onderwerpe in een groep met gemak hanteer. Dit sou beslis ook moontlik wees om groter groepe in die toekoms op te deel om sodoende bespreking te ontlok.
Die Moreletapark groep in Pretoria:
Vlnr: Johan Louw (fasiliteerder) Wessel Fourie, Naas Zaayman, Wilhelm Lombard, Hester Botha, Luther Backer, Lydia en Willie Möller

Ek vertrou dat elkeen wat die kursus bygewoon het die beginsels in die werksplek sou kon gaan toepas om sodoende God se Koninkryk te laat kom waar hulle geplant is. Ons sou ook die persone in die toekoms as groepleiers kon aanwend indien ons groter groepe en meer mense betrek by die byeenkomste.

Ek is vol vertroue dat ons gereed is om hierdie kursusse saam met die Heilige Gees na ‘n volgende vlak te neem. Die gedagte is om reeds so vroeg soos Februarie/Maart DV ons volgende kursus in Pretoria aan te bied. Voorbidding word nou reeds hiervoor versoek. ‘n Span sal eersdaags saamgestel word om hiermee behulpsaam te wees.

No comments:

Post a Comment

Featured video